Pieter Koen, brand hq

Available Platforms & Services

  • Facebook

    Followers 92k
  • Twitter

    Followers 36k
  • Instagram

    Followers 25k
  • Voiceover
  • TV
  • Ambassador

    Pieter Koen is ready to be your brand ambassador

Met meer as 23 jaar se ervaring is Pieter Koen ’n huishoudelike naam in die Afrikaanse Musiek & Vermaaklikheidsbedryf
Hy was elke Saterdagaand deel van jou televisiekamer as aanbieder van die gewilde musiekprogram, Jukebox en is ook vir die afgelope 18 jaar as veldaanbieder deel van die Kwêla span op KykNET. Hy spog reeds met agt albums en een DVD op sy kerfstok asook ’n ATKVeertjie en twee Tempo Toekennings vir Beste Televisie Aanbieder.
Na die sukses van Kan Nie Vra Vir Meer span hy kragte saam met Precision Music asook vervaardiger, musikant en vriend Danny Smoke om sy negenede vollengte album die lig in 2021 te laat sien. Dit is ’n konsep album met ’n versameling tydlose treffers van weleer – ’n vars en opwindende wending asook ‘n groot mylpaal in hierdie kunstenaar se musiekloopbaan!
Intussen tree hy regoor die land op as kunstenaar, seremoniemeester by troues en kuier saam met maatskappye se spitbraai en spanbou geleenthede – waar hy sommer die skaap saambring en die gaste lekker vermaak!
Wat hy doen as veelsydige vermaaklikheidspersoonlikheid maak van Pieter Koen ’n ekstrovert. “Dit maak ’n mens nogals bang om meer van jou persoonlikheid bloot te stel,” erken hy. “Om nog ’n laag by te sit en dinge een trappie verder te vat, dit is waar ek nou is, en dit is verfrissend!”
Hy is ‘n uitstekende storieverteller en laat die gehoor gereeld skaterlag met al sy staaltjies en grappe en is ‘n groot gunsteling vir beide dames oggende sowel as manne-aande.
MEER AGTERGROND
Sedert 1997 is die vermaaklikheidswêreld al sy speelveld, maar dit was sy EMI Music trefferalbum, Skud Jou Biscuit, wat van Pieter volksbesit gemaak het. Hy spog met verskeie SAMA-nominasies en ‘n Vonk/Rapport toekenning vir sy bydrae in die musiekbedryf en het ook ‘n ATKV mediaveertjie ontvang as gunsteling televisieaanbieder.
Neem nou maar sy debuut, Run With Me, in 1997, waarna EMI hom aanboord geneem het vir sy tweede album, Skud Jou Biscuit, in 2004. Voeg daarby Welkom In My Wêreld in 2005, Tattoo in 2006, 3 Susters in 2008 en 3 Susters + Superman ’n jaar daarna. Volgende was daar sy debuut DVD-album, Tattoo Live, en die CD-bekendstelling van Haak ’n Bietjie Uit in 2010. Vier jaar later was dit tyd vir ‘n nuwe album en Wat Die Hart Van Vol Is het die lig gesien met sy laaste album, Kan Nie Vra Vir Meer wat gevolg het in 2016.
Vandag is hy bietjie ouer en heelwat slimmer, en vasbeslote om sy aanhangers ’n sy van homself te wys wat sy musiek nooit tevore vertoon het nie. Hy het reeds saam met talentvolle liedjieskrywers Roux Cloete, William Loots, Johan Oberholzer en Emil Struwig in die verlede gewerk wat bygedra het tot die sukses van sy vorige albums.
In ’n bedryf wat Pieter oor die laaste dekade help vorm het, is dit een ding om met aanhangers te skakel maar dit vereis ’n spesiale soort ster om hulle werklik te betrek en hulle aandag te behou. “Die Suid- Afrikaanse musiekbedryf het so baie gegroei vandat ek my debuut destyds in 1997 vrygestel het,” dink hy terug. Sedertdien het Pieter ook een van die land se min waarlik suksesvolle en veelsydige verhoogkunstenaars geword. “Ek het eers by musiek begin,” voeg hy by, “en toe gebeur TV en radio as gevolg daarvan. Elke aspek van my lewe voed die ander, en dit is dié deel waarvan ek die meeste hou.”
By die huis is Pieter die trotse pa van drie pragtige kinders, Jovan, Jayden en Luné en is hy sedert 2001 getroud met sy universiteitsliefde, Lotie. Die Koen-kroos reis gereeld saam as Pieter optredes in die Gauteng omgewing het en is nie skaam om sommer af en toe saam met hom op die verhoog te dans nie.
‘n Man vol verrassings, ‘n onblusbare passie vir Afrikaanse musiek en ‘n lewenslus wat baie jong kunstenaars na smag is Pieter Koen nog lank nie gereed om sy mikrofoon op te hang nie.